Subscribe

Buy Colour

Buy Colour

Buy Colour

wouterkellerman.com

Beeld - 'Kellerman se kleurryke debuut'
Press
Wednesday, 12 December 2007
by Thys Odendaal
from Beeld

BeeldWouter Kellerman is ’n begaafde fluitspeler, maar is daarby ’n musikant wat hom komposisioneel en improvisatories oop laat vir heelparty invloede, selfs van ver buite die landsgrense. Hy is ’n wêreldreisiger gewis, en in dié opsig word sy eerste album geklassifiseer in die vreemde kategorie genoem “Wêreldmusiek”.

(In die kolomme is daar al dikwels verwys na die benamings vir musiek- idiome bloot as bemarkingstrategie.)

Waar Kellerman hom ook al wil inskakel, is nie belangrik nie. Hier is die (veilige) titel van sy debuut van veel meer belang. Dat Colour verwys na die kleurryke musikale omgewing waaraan hy hom blootstel, en wat hy met heelparty ander musici op uiteenlopende instrumente aan sy luisteraars aanbied.

Ná ’n rustige Piazzolla (Vuelvo al Sur), stel Kellerman hom as komponis voor.

Onthullend, vernuwend is sy musiek nié, maar dit word baie knap gekonsipieer. Die melodieë word kundig omring in welgekose harmonieë. En dit klink altyd spontaan. Kellerman plaas die musiek voorop, en sy komposisionele strategie berus op eenvoud. Dit blyk ook duideluit die instrumentasie in ensembles wat van snit na snit verskil. So word ’n subtiele kontras in die musiek bereik, wat, soos die ganse album, ’n berustende, byna luilekker ambience optower.

Sy eerste bydrae, geskryf saam met sy musikale sielsgenoot, Paul Whellock, heet Told U So. Wat die titel beteken, is vaag, maar nie die musiek nie: subtiele Afrika, met lipposisies op die fluit wat ’n aardse gevoel skep.

Die tweede “song” – “song” word hier nie as “liedjie” bedoel nie, maar “song-like” – is Half Moon wat Whellock op die kitaarinlei en waarom Kellerman sy dwarsfluit sirkel.

Sonder om die algemene stemming prys te gee, stuur die Irish March die musiek in ’n ander rigting: die jolige dansritme, as landelike vryheid met sagte perkussie, gekompleteer deur Mauritz Lotz se omvangryker aandeel aan die snaar-insette.

Kellerman skep ’n stil, onbelemmerde atmosfeer in met die opname, maar die kontraste toon ’n goeie onwaaghalsigheid. ’n Hoogtepunte, veral in klankvariasie- en kombinasies, is Khokho: vokale improvisasie word uitbundig ingeskakel by die fluit en perkussies. Meer nog, hier is die komiese, die satiriese ook ter sprake, wat die CD wegstuur van die wroegings wat so baie opnames uit eie bodem kenmerk. Dié groep musikante put oneindige genot in hul sáám-musiekmaak. G’n wonder kreatiewe kragte bruis hier opvallend.

Met Buenos Aires, ’n Latyns-Amerikaanse luier-kuier, word tongtegnieke op die fluit geïllus-treer; knap opgevolg Quisas, quisas, quisas. Veronique sing dié welbekende deuntjie idiomaties.

Invloede strek wyd, ook Afrikaanse liedjies word ingesluit, maar ’n deurlopend individuele klankpalet word in die klankboog behou. Dis doelgerigte dissipline, sonder om spontane bydraes te smoor. Die CD is tegnies puik. Die boekie-notas, benewens die stapel bedankings “for always being there”, is kort en kragtig.

Kortom, ’n debuut van hoë gehalte, hoogs professioneel en waardevol. ’n Sonstraal in die vloed van middelmatigheid.